Die stories

Die verskillende ouderdomsgroepe waaruit die Loebi-leesreekse bestaan is:

  • 0-2 jaar (die pienk reeks)
  • 2-3 jaar (die geel reeks)
  • 3-4 jaar (die groen reeks)
  • 4-5 jaar (die blou reeks)
  • 5-7 jaar – skoolvoorbereidende reeks (die pers reeks)

Ons identifiseer die verskillende reekse met kleure in plaas van ouderdom. Enige van die boekies kan dus met groot sukses deur kinders gelees en deurgewerk word ook as lees-remediëring en die pienk reeks is byvoorbeeld ideale selfleestories vir beginnerlesertjies.

Die stories handel oor Loebi die draak, sy gesin, sy familie, sy omgewing, wat hy doen, wat hy nie kan doen nie, dinge waarmee hy sukkel, ensovoorts. Al is Loebi ‘n drakie, sal jou kleinding maklik met hom identifiseer, want hy het dieselfde emosies, probleme en uitdagings as wat enige kind van daardie ouderdom het. Baie van die stories kan dus ook goed werk as biblioterapie (die storie van ‘n siek Loebi wat na dokter Kieke toe gaan, kan byvoorbeeld effektief ingespan word om ‘n kind voor te berei op ‘n doktersbesoek).

Loebi ontwikkel dus in die verloop van ons stories van ‘n hulpelose draakbaba tot ‘n sesjarige-draak, vol selfvertroue. Hy ontdek homself ten opsigte van sy omgewing en ander drake. Hy kry sy plek in die drakewêreld. Die stories van elke ouderdomsgroep se pakket vorm ‘n eenheid, maar is ook verweef met die ander pakkette se stories.

Die stories se taalgebruik, sinstruktuur, woordeskat, lengte en inhoud is aangepas by die spesifieke ouderdomsgroep se kognitiewe vermoëns. Die pienkreeks bestaan dus uit kort, baie eenvoudige stories met kort sinne en baie herhaling, waar die pers reeks uit meer gevorderde, langer stories bestaan. Sodoende word ’n liefde vir lees stelselmatig en op ’n natuurlike en deurlopende manier by die kind gevestig.

Die inhoud van die stories en die aktiwiteite is gebaseer op die voorskrifte en leeruitkomste van die Nasionale Kurrikulum en dien dus as addisionele hulp en voorbereiding vir toekomstige leerders.

Die stories en aktiwiteite sentreer elke maand rondom 'n ander tema. Die aktiwiteite is dus opvoedkundig van aard, wat nie beteken dat dit nie PRET PRET PRET is nie!

Die stories en die aktiwiteite van elke les sentreer om dieselfde temas as wat gewoonlik deur die loop van ‘n skooljaar by kleuterskole gedek word:

  • Les 1: Wie is ek?
  • Les 2: Huis
  • Les 3: My familie
  • Les 4: My omgewing
  • Les 5: Diere
  • Les 6: Beroepe
  • Les 7: Feeste
  • Les 8: Vervoer
  • Les 9: Plekke
  • Les 10: Speelgoed/Verhoudinge
  • Les 11: Verbeelding/Kreatiwiteit
  • Les 12: Vaardighede